Stroom-op Akademie motto

Saturday 1 August 2020

Hoekom ons tuisskool verkies.

Dit gaan my verstand te bowe dat mense na Suid-Afrika kan kyk en sien dat geen staatsinstelling vandag meer werk nie. Eskom, SAL, munisipaliteite, staatshospitale, SA-posdiens en noem maar op, is almal bankrot as gevolg van wanadministrasie en nogsteeds ploeter ons voort en sit ons kinders in Staatskole. 

As jy die dag siek is, kan ek jou amper belowe dat die staatskliniek en staatshospitaal nie vir jou `n opsie is nie want jy vertrou die fasiliteite heel waarskynlik nie. Daar mag dalk uitstekende dokters en verpleërs wees wat `n passie het om mense te help, maar as die hospitaal nie geld het vir beddens of skoon lakens of toiletpapier nie, is die dokter se hande afgesny en kan hy nie vir jou die nodige sorg verskaf nie. 


Net so is dit met ons skoolstelsel. Daar is nog onderwysers en hoofde in staatskole wat `n passie het vir die onderrig van ons kinders, maar as die staat bepaal wat my kind moet leer en die materiaal wat verskaf word is van swak gehalte, kan ons nie verwag dat ons kind/ers met kwaliteit onderrig daar gaan uit stap nie. As die stelsel nie werk nie, is die onderwyser se hande ook afgekap ongeag hoe lief daardie onderwyser vir sy werk is.


En dit is presies waarom ons tuisskool gekies het. 

1. Geloof
Ek wil my kinders `n rotsvaste begin gee deur ons eerste fokus ons Godsdiens te maak. Ek wil hê my kinders moet weet wat ons glo en waarom ons iets glo. Die skoolstelsel bevorder gelykheid van gelowe en gaan nie my kind sy eie geloof leer nie. As `n skool open met gebed beteken dit nie dat hulle jou kind gaan leer oor die Christengeloof nie. Dis bloot net `n formaliteit om ouers gelukkig te hou. 

2.Kwaliteit onderrigmateriaal

Ek wil vir my kind die standaard en kwaliteit van onderrig vasstel. Ek wil graag vir my kind die hele geskiedenis leer - reg of verkeerd. Ek wil my kind graag onderrig in wêreldsake en nie net wat die staat bepaal my kind soos `n papegaai moet leer vir `n toets nie.

3. Individualiteit
Elke kind is uniek met verskillende Godgegewe talente en eienskappe en
deur tuisskool het die ouer die mag en reg om sy kind te kan lei om sy uniekheid te besef en te kan uitleef. Daarenteen word `n kind op die ouderdom van 6 jaar na `n indoktrinasie sentrum (skool) gestuur om gevorm te word deur die staat. Dis geen wonder dat ons kinders, ons jeug en toekoms, rigtingloos is nie. Hulle weet nie meer waar hulle inpas nie. Hulle het hule identiteit verloor. Ons skole is besig om wêreldlinge van ons kinders te maak.

4.Koste effektief
Skoolfonds, ekstra aktiwiteite, uniforms ens. kan gou optel om `n groot bedrag te word. Deur te tuisskool kan ek die uitgawes 100% beheer. Ek besluit watter aktiwiteite my kinders aan deelneem, hoeveel kunsmateriaal ons gaan benodig en of ons "uniforms" wil dra. As ouer kan jy ook die kurrikulum kies wat jou sak gaan pas. Ek glo dat `n mens jou kind kan tuisonderrig met net `n biblioteekkaartjie. Kennis is mag.

5.Tydsbestuur
So baie van ons kinders se tyd by die skool word gebruik vir ander dinge as onderrig. Ek het self skool gehou en weet dat baie periodes spandeer word om die hele klas se huiswerk te merk of om te wag vir die stadiger kinders of om kunsprojekte of take af te handel wat sekere kinders lankal klaar het. Kinders werk nie almal teen dieselfde spoed nie en so dikwels word die kind wat sy werk vinniger afhandel daardeur benadeel. 

Nog `n positief van tydsbestuur is dat ons gesin nie gebonde is aan skoolvakansies ens. nie. Ons kan plekke besoek wanneer dit aansienlik stiller en goedkoper is. 

Hierdie is net `n kortlysie van die redes waarom ons gesin tuisonderrig verkies.

Is julle `n tuisonderrig gesin? Dink jy daaraan om te begin?
Laat weet gerus watter vrae jy dalk het oor tuisonderrig.

Groete Mamma S




No comments:

Post a Comment

Kontinente - Suid-Amerika Gratis werkkaarte

Kaart van Suid-Amerika Reënwoude Peru Brazilië Argentinië In aksie: