Stroom-op Akademie motto

Wednesday, 29 July 2020

Hoe om `n kind sy naam te leer

1. Herken die naam
2. Lees die naam
3. Skryf die naam

Kom ons kyk nou na elkeen van die stappe in detail.

1. Herken die naam
Net soos woorde vorm maak, sal jou kind sy naam kan herken aan die vorm en ook die beginletter van sy naam.

bv. Jan in vorm lyk soos `n reghoek en dan 2 vierkante. Die krulletjie van die "J" kan ook die deel wees wat die kind herken.

Help jou kind sy naam herken, deur dit uit te wys en te sê: Kyk dis jou naam: "Jan".
Sit jou kind se naam op sy plekmatjie waarop hy eet of op die tafel waar hy werk. Hoe meer hy blootgestel word aan sy naam, hoe vinniger gaan hy dit herken.

2. Lees die naam
Jou kind sal mettertyd leer om sy naam te klank en dan ook om die klanke aaneen te koppel oftewel lees.

Help jou kind deur die klanke te sê en dan sy volle naam bv. "J" "a" "n" dit sê Jan.

ASB!!!! moenie sê "JEE" "AAA" "EN" nie. Dit spel Jan maar kinders lees deur klanke nie deur lettername nie.

Skryf of druk die kind se naam op papier en knip dan die letters los van mekaar. Gee vir die kind `n voorbeeld van hoe om sy naam in volgorde te plaas en laat hy dit oefen.
Later kan jy die voorbeeld wegvat en laat hy slegs die letter reg pak. 

3. Skryf die naam
Net soos by lees, moet daar eers op die letters as individue gekonsentreer word. Elke letter moet alleen geoefen word en kan later dan saamgevoeg word.

 Laat die kind die letters van sy naam eers met sy vinger skryf in sand of vingerverf. 
Daarna kan die kind sy naam oefen met `n voorbeeld en laastens sonder die voorbeeld.

Onthou:

Moenie jou kind vergelyk met ander nie. Die naam Otto is baie makliker om te leer as die naam Dewaldt. 

Vir nog idees gaan kyk gerus hier:

Lekker leer.
Mamma S




Thursday, 23 July 2020

Maklikste, vinnigste eetbare speelklei resep


Benodighede:

Eetbare speelklei

1 kp koekmeel

1/2 kp sout

1/4 kp olie

3/4 kp kookwater

1 pakkie koeldrankpoeier (soos drink-o-pop)

Gooi koekmeel en sout in `n bak.

Meng olie, kookwater en koeldrankpoeier saam.

Voeg by meelmengsel.


Gratis Tema Werkkaarte: Lugvervoer





Sunday, 14 June 2020

Tuisskool vir 1 tot 2jariges

Baie nuwe mammas vra vir my waar hulle moet begin. Wat kan hulle doen om hulle 1 tot 2 jarige nie net besig te hou nie, maar ook te stimuleer?

Hier is my top 5 dinge om te doen. 

1. Lees
Lees, lees, lees, lees. 
Die beste tyd om vir jou kind te begin lees is gister. Anders begin vandag. Lees stories met rympatrone of stories wat dieselfde trant het. Wys prente in boeke uit en sê wat dit is. 
As jy niks anders kan doen nie, asb lees vir hulle. 

2. Sing/Musiek 
Ja, jy moet sing. Of sit liedjies aan sing saam. Julle kan dans en musiek maak ook daarby. Musiek is 'n wonderlike hulpmiddel. Kinders leer vinniger deur musiek te gebruik. Dink aan die alfabet, jou kind kan dit sing lank voor dat hy eers weet wat dit is. 

My oudste het al op 3 al die planete geken, kontinente en nog baie meer, net omdat ons dit sing. 

3. Flitskaarte
Daar is 4 pakkies flitskaarte wat jy elke dag moet gebruik:
letterklanke
nommers 1 tot 20
kleure
vorms

4. Fynmotories
Oefen die spiertjies in die handjies deur allerhande aktiwiteite. Kies 3 op 'n dag en dis genoeg. 
Bv. Sorteer bone of knope, verf met water op grond of pas sokkies in pare bymekaar. Bou legkaarte of blokkies saam. Leer diere se geluide aan of liggaamsdele.

5. Grootmotories
Speeltyd is heeltyd maar maak ook 'n punt daarvan om doelbewus te speel. Bv gooi en vang bal, skop die bal. Loop op 'n lyn. Sit boontjiesak op kop en loop. Hop soos diere, loop hande-viervoet of doen kruiwaloop.

As jy doelbewus hierdie dingetjies elke dag met jou kind doen, gaan jou kind ontwikkel in al die belangrike areas.

Geniet hul kleintyd, dis vinnig verby. 

Saturday, 6 June 2020

Roetine vir voorskoolse kinders

As ek aan mense noem dat my kinders nie kleuterskool toe gaan nie want ons tuisonderrig, is die algemene reaksie maar "jou kinders moet speel". Ek dink mense het `n wanpersepsie van wat tuisonderrig vir voorskoolse kinders is. Net omdat ons tuisonderrig beteken nie dat my 4- en 2 jarige heeldag by `n tafel sit nie.

Hier is `n voorbeeld van ons daaglikse skedule:
5:30 Opstaan
5:45 Bybel en boeke lees
6:00 Ontbyt
        Aantrek
        Tandeborsel
7:00 Oggend takies waarmee kinders help
        Mamma-tyd - oefen ens.- Kinders speel buite
        Kos voorbereiding waarmee kinders help
8:00 Skool:  Liggaamsoefeninge (10min)
                    musiektyd (10min)
                    sirkeltyd    (10min)
                    tematyd    (10min)
                    tafelwerk  (20min)
9:00   Peuseltyd
9:15   Binnespel met "open ended" speelgoed soos blokkies
10:00 Buite speel - groot motoriese vaardighede
10:30 Lees
11:00 Slaap
12:30 Middagete
13:00 Takietyd binne in die huis saam mamma
14:00 Fyn motoriese werk
14:30 Lees
15:00 Buite speel/ swem/ fietsry
16:00 Opruimtyd
          Honde kos gee
17:00 Aandete
          Bad
          Lees vir 30min
18:00 Slaap vir die nag

In `n tipiese skooldag speel my kinders 3 ure buite, hulle sit stil vir `n totaal van 40 min en lees vir 1 en halwe uur van die dag.

By `n skooltjie waar kinders van 8:00 tot 13:00 skool gaan speel hulle seker net 1 uur buite. Kinders spandeer baie meer tyd binne `n klaskamer.

Ek dink dis verkeerd om net aan te neem dat kinders wat tuisonderrig doen, minder speel. Ek sal graag meer mense bewus wil maak van wat tuisonderrig met voorskoolse kinders regtig behels. 

Ons dag is baie gestruktureerd soos wat dit ook by `n skool sal wees omdat my kinders floreer op `n roetine. Hierdie is ook net ons doelwitte en soms kom ons nie by alles uit nie, maar ek weet daar is `n tyd geskeduleer om by alles te kan uitkom. 

Ons doen skool op die stadium net 3 dae per week en die ander 2 dae gaan ons dorp toe of biblioteek toe tussen 8:00 en 9:00. Die res van die dag lyk min of meer dieselfde - elke dag. 

Ek hoop hierdie gee `n mamma dalk bietjie insig hoe `n voorskoolse dag by die huis kan lyk. 

Groete Mamma S

Thursday, 4 June 2020

Lys van 50 temas vir voorskoolse kinders

By voorskoolse kinders is `n tema elke week `n goeie wegspringplek. Die voordele van temas is dat dit skool opwindend maak en dat kinders se algemene kennis baie verbreed. Jy kan een tema ook by verskillende ouderdomme aanpas.

Hier is `n lysie van meer as 50 temas wat jy kan gebruik elke week in tuisskool:

1. Lewe en lewende dinge
My liggaamsdele
My liggaam- organe
Visse en Amfibieë
Seediere 
Voëls
Insekte en spinnekoppe
Wilde diere
Reptiele
Troeteldiere
Plaasdiere
Nagdiere
Eiers/geboorte

2. Plante en voedsel
Plante
Bome
Vrugte en Groente
Voedselbronne - hoenders gee eiers, koeie gee melk

3. Gemeenskap helpers
Mediese sorg
Tandarts
Brandweer
Polisie
Posdiens

4. Aarde
Water
Lug
Wind
Vulkane/ Landformasies
Vuur
Skuilings
Huise
Plase
See/riviere

5. Ruimte
Sterre
Son
Maan
Planete
Ruimtetuie en ruimtevaarders
Seisoene
Dag/nag

6. Vervoer
Seevervoer
Lugvervoer
Treine
Karre, busse ens
Motorfietse, fietse ens

7. Wetenskap
Sintuie
Lig
Magnetisme
Elektrisiteit
Energie
Metale
Materiale soos plastiek
Herwinning en afbreking van stowwe

8. Geografie
Koninente en oseane
Afrika
Suid-Afrika en provinsies
Tuisdorp


Hierdie lysie is nie volledig nie maar hoop dit gee iemand `n idee van die magdom temas waarvan `n mens kan kies.







Watter tema sal jy byvoeg?

Groete Mamma S

Kontinente - Suid-Amerika Gratis werkkaarte

Kaart van Suid-Amerika Reënwoude Peru Brazilië Argentinië In aksie: